“Massage, Monsieur … Madame?”
“Nee dankie … no thanks,” mompel Jan terwyl hy beskermend tussen die groepie eilandbewoners en vroulief inbeweeg.
Dit is sy en Marie se tweede laaste dag op Sakatar, ’n losstaande eiland aan die noordwestelike kus van Madagaskar. Hulle het drie dae gelede vanuit Antananarivo via Nosy-Be hier beland. Alhoewel die verblyf op die eiland tot dusver niks minder as wonderlik was nie, werk Jan se wiskundige brein oortyd en raak hy stelselmatig al hoe meer bekommerd oor die begroting.
Maar Marie, wat nie eintlik op skool uitgeblink het in wiskunde nie en ’n lewensleuse het van “ag man, gebruik die blerrie kaart”, was voorbereid hierop.
Sy gryp Jan se arm vas en dwing hom tot stilstand. “Yes, yes we will … have it.” Dit terwyl haar ogies onbeskaamd oor die voorbok se postuur gly. Hy is geklee in slegs ’n breë glimlag, bultende six-pack, blou Speedo en plakkies, en sy voel hoe haar knieë lam raak.
“How much?” mompel Jan terwyl hy die “conversion table” uit sy hemp se bosak loswikkel. Hy het, voordat hulle vertrek het, ’n breedvoerige spreivel opgestel wat die presiese waardes tussen rande, euro’s en Madagaskar-ariaries aantoon. Van dag een af het hy probeer om Marie geïnteresseerd te kry in hierdie baie belangrike dokument. Maar sy het geweier; selfs een keer in ’n vlaag van woede die ding uit sy hand gegryp en by die taxi se venster probeer uitsmyt. Die daaropvolgende argument het so heftig geraak dat die stomme taxibestuurder maar sy radio harder moes sit. As kompromie het Jan halfhartig ingestem om ’n sekere bedrag euro’s aan haar te gee waarmee sy kan maak wat sy wil, solank sy nie vir meer “entertainment fondse” vra nie.
“Shake on it,” het sy half smalend gekoer, maar kon hom nie in die oë kyk nie. Hy het maar met ’n beklemming vir die beste gehoop, want hy ken sy vrou nie net van gister af nie.
Toe die groep nie reageer nie, pomp Marie haar man in die ribbes en vra self: “How much … for both of us?”
Die jong Malgas steek sy hand uit. “Me Mauritzio”, en terwyl hy na die twee meisies wys: “Sophia, Brigitta ... thirty thousand ariary ...” Jan steek sy neus in die vormpie.
Daar is net-net genoeg in die kittie oor en hy knik sy kop traag. Sy lyf het geen begeerte vir ’n massering nie, maar hy sien nie kans vir weer ’n gestryery in die openbaar nie. “… Each,” gaan Mauritzio met ’n glimlag voort. Jan loer sydelings langs na Marie vir ’n bevestiging dat dit ’n no-go is, maar sy vermy oogkontak.
“Okay, we will take it,” besluit sy vir albei en Jan moet homself met moeite beteuel.
Hy trek haar eenkant toe. “Vergeet dit, my skat, onthou ons ooreenkoms.”
“Wat bedoel jy, my man?” Haar groot oë is die onskuld vanself, maar Jan laat hom nie van stryk bring nie.
“Sestig duisend, Poppie, dis oor die drie honderd rand …”
“Ja … en ... so what – jy kan altyd hier wag, dan gaan ek alleen.”
Jan kan nie glo wat hy hoor nie. Hy loer oor sy skouer na waar die drie hulle dophou. Mauritzio se glimlag lyk al hoe meer na ’n grynslag en hy voel lus om die man ’n middelvinger te wys.
“My skat,” sis hy tussen saamgeperste tande, “toe ons laas getjek het, het jy skaars genoeg in jou kittie oorgehad vir daai tafeldeken – wat, soos jy gister pertinent genoem het, jy nêrens elders sal kan kry nie. Nee wat …”
Maar sy val hom in die rede. “Tafeldeken? O daai een?” Sy draai haar kop lugwaarts en maak of sy ernstig sommetjies maak. “Ag moenie worry nie, ek het genoeg vir dit ook. Kom ons gaan.” Dan haak sy voorbarig by Mauritzio in.
Die twee meisies kyk Jan afwagtend aan. Sy skouers hang, maar hy besluit dat hy maar sal moet deurdruk. Alhoewel hy tot dusver nooit enige rede gehad om sy vrou naby ’n ander man te wantrou nie, is hy baie bekommerd oor die skynsel in haar oë. Hy wys dat hulle maar moet aanbeweeg en loer onderlangs na die twee meisies.
Brigitta is skraal en skyn skaars agtien te wees. Haar bene is, soos die meerderheid van hierdie “klein” mensies s’n, bra vormloos, maar haar postuur is trots en regop. Sophia, daarenteen, is veel voller in die lyf. Die twee is besig om uitbundig in Malgassies of Frans te skerts. Jan kry die indruk dat hy dalk die onderwerp van bespreking kan wees. Toe Sophia op ’n kol skuins draai en ’n klap na haar vriendin mik, moet Jan met moeite sy oë wegskeur van haar groot, perfekte borste onder die deurskynende bloesie. Sy gedagtes neem die loop en hy loer ondertoe om seker te maak dat sy T-hemp die kostuum genoegsaam toemaak.
’n Paar honderd meter verder wys die drie dat hulle die bestemming bereik het. Op die spierwit strand is ’n ry van vyf aantrekhokkies met ’n paar meter spasie tussen hulle. Hulle is gemerk Cubicle A1 tot Cubicle A5. Parallel daarmee, so ’n twintig of wat meter verder strand-op, is nog ’n ry geboutjies wat meer permanent van aard is.
Amper soos die Backpacker-tipe wat Jan tot dusver op die eiland waargeneem het. “Seker maar Cubicles B1 tot B5,” mompel Jan by homself.
Brigitta trek Marie met ’n giggel van Mauritzio af weg en mik in A1 se rigting. Marie maak asof sy weerstand wil bied, maar een kyk in Jan se dreigende oë laat haar anders besluit. Sy lag hardop as Brigitta haar by die hokkie inlei.
Jan beweeg na A2, maar Sophia het ander planne. Sy plaas haar wysvinger voor haar mond en sleep hom A5 toe. Net voor die oorhangsel agter hom toetrek, merk Jan hoe Mauritzio stadig aandrentel in die rigting van die B-ry.
Dan is hulle alleen, Jan en die vriendelike meisie met die groot borste. Hy merk dat daar slegs ’n groot handdoek uitgesprei op die sand lê. ’n Plastiekbak vol water en vyf botteltjies olies vorm die res van die dekor. Hy wonder skielik hoekom hy dan nou so teleurgesteld is. Het hy dalk iets anders verwag? Iets in lyn van wat Leon op kantoor altyd so oor uitwei? Hy wat Jan is, en sekerlik meer as die helfte van die ouens in die kantoor, het ’n heel anderste verwagting oor hoe ’n massage parlour nou eintlik moet lyk. Het Leon hulle al die tyd gebullshit? wonder hy. Is dit nou dit?
Hy sug toe Sophia hom wys om sy hemp uit te trek en op sy maag op die handdoek te gaan lê. Verbeel hy hom, of was daar ’n verskuilde kuggie toe hy sy middellyf rondwurm om plekkie te maak in die sand vir waar dit ongemaklik is? Dan haal hy diep asem en laat hom aan sy lot oor.
Sy kniel langs hom en plaas sy linkervoet op haar skoot. Dan begin sy sag en ritmies haar pad opwerk na sy bobeen toe. Dit word gou duidelik vir Jan dat Sophia se benadering tot massering wêreldwyd verskil van wat hy in die verlede tydens sy sportjare mee te doen gehad het. “Miskien het Leon tog nie altyd nonsens gepraat nie,” prewel hy halfpad deur die regterbeen en skuifel vir die soveelste keer sy middellyf rond. Toe die klein handjies sy rug en nek beetkry, besef hy dat hy nie in sy wildste drome ooit verwag het dat sy 43-jarige lyf soveel verskuilde spots het nie. A-spot, B-spot, C-spot, G-spot … o vader, waar gaan dit eindig?” wonder hy stilweg en gee die fantasiedeel van sy brein die vrye teuels.
Dis toe sy hom saggies op die skouer tik en wys dat hy op sy rug moet draai dat dinge begin lol. Hoe hard hy ook al probeer om so nonchalant moontlik om te draai, laat die verskriklike spektakel wat hom, en sekerlik vir Sophie ook, in die gesig staar, hom hard na sy asem snak. Daar is net nie genoeg materiaal aan sy kostuum om sy ongemak weg te steek nie. En om die situasie te vererger, het die gekriewelry veroorsaak dat die handdoek onder hom uitgeskuif het en dat sy kostuum in direkte verbinding met die sand was. Die sandkorrels het nie op hulle laat wag om in ’n gesonde bos aan die uitbulting vas te kleef nie. Dit herinner Jan aan ’n ice cream cone met ’n crushed nut dip en hy gooi sy bene impulsief oormekaar.
Sophia, met ’n breë glimlag, leun saggies oor hom. Met ’n asem wat ruik na ilang-ilang en coconut oil fluister sy sag in sy oor: “We special, yes?”
Jan is stomgeslaan. Al wat hy kan uitkry, is ’n verblufte “Huh?”
“Special … for that”, en sy wys glimlaggend na Jan se woedende ongemak.
“But …” fluister Jan en knik in die rigting van A1.
“Not worry,” antwoord Sophia. Sy druk haar vinger weer teen haar mond en trek hom aan sy arm op. “We go soft, yes?” Sy lig sy hemp op en wys hom om dit om sy lyf te draai. Dan lei sy hom versigtig uit.
Toe die vars lug hom vang, raak Jan skielik vreesbevange. Hy het die punt van no return bereik. Hy loer in A1 se rigting en deur die dun materiaal kan hy die silhoeët van die skraal meisie sien waar sy half bo-op Marie sit en haar nek of kop masseer. “Dit kan werk,” besluit hy verlig en skarrel agter Sophia aan in die rigting van die B-ry.
Hulle het skaars vyf treë gevorder toe Jan ’n geruis agter hom hoor. Hy vlieg verskrik om. ’n Jong Malgas-seun het, asof uit die niet, verskyn en is besig om hulle spore met ’n piesangblaar toe te vee.
“Not problem, come, come,” fluister Sophia en trek hom in die rigting van B5 se ingang. Sy maak die deur oop en in dieselfde beweging stamp sy Jan sodat hy op die dubbelbed neerval. Dan klap sy die deur toe en pluk haar bloes oor haar kop. Haar groot, gesonde borste dartel in harmonie met mekaar as sy vooroor buk en ’n lêer uit ’n klein kassie haal en op Jan se skoot neersit.
“You choose … Kattaloog,” verduidelik sy trots. Daar is sekerlik nie meer as tien eilandbewoners wat so ’n groot Engelse woord kan baasraak nie.
Sy sak op die bed langs hom neer en terwyl sy haar op een elmboog stut, staar sy hom afwagtend aan.
Teen hierdie tyd is Jan rasend. Die massering, gekoppel met die adrenalien met die opskarrelry en die pragtige borste wat nou langs hom opgehoop lê, maak dat hy voel of sy kop wil bars. Hy oorweeg dit ’n oomblik om sy rug op haar te draai en ’n paar vinnige plukke te gee, maar beteuel homself met moeite.
Hy gaan sit regop en trek die katalogus nader. Dit is ’n blou tweebinder-lêer met ’n dosyn of wat bladsye wat elk gelamineer is.
Hy maak die lêer oop en val amper van die bed af van die skok. Aan die linkerkant van bladsy 1 is die syfer 1 groot met ’n rooi balpuntpen geskryf met die term “Hand-job” onder die syfer geskryf. Op die regterkant is ’n verbleikte uitknipsel uit ’n pornotydskrif van ’n meisie wat ywerig besig is om ’n man met die hand te masturbeer. Jan is totaal uit die veld geslaan. Die barre absurditeit daarvan prikkel hom so dat hy ’n oomblik daarna staar en dan omblaai.
Nommer 2 is getitel “Blow-job” en die uitknipsel aan die regterkant, alhoewel verbleik, verduidelik presies dit.
Hoe verder Jan blaai, hoe meer geïnteresseerd en opgewerk raak hy. “3 Boob-job … 4 Muff dive job ... 5 Frontal job … 6 Doggy job ... 7 Threesome job ... 8 Foursome job … 9 Greek job ...”
Dis eers toe Jan by die laaste een, “10 Round-the-World job”, kom dat hy merk dat daar ’n prys onderaan elk van die fotos is. Hy blaai terug en merk dat die prys stelselmatig styg.
Hy hoor Sophia langs hom vroetel en besef dat hy vinnig ’n keuse sal moet maak, aangesien Marie sekerlik teen hierdie tyd ver gevorderd is met haar massering.
Hy loer verlangend na nommer 6, maar een kyk na die prys laat hom op nommer 2 besluit.
Agterna trek hy skuldig sy kostuum aan en mik vir die deur, maar Sophia tree tussenbeide.
“No … wait,” sê sy en maak die deur versigtig oop terwyl sy met haar ander hand wys dat hy doodstil moet staan.
Hy wag geduldig, en uiteindelik, na wat vir hom na ’n ewigheid voel, wys sy vir hom dat hulle maar kan gaan.
Terwyl hy kop onderstebo agter haar aandrentel en wonder hoe hy die episode van sy vrou gaan weghou, vang hy uit die hoek van sy oog ’n beweging. Dit is weer dieselfde seun wat besig is om die sand gelyk te vee. Hierdie keer tussen A1 en B1.
Toe hulle aan die voorkant kom, wag Marie reeds daar en Jan is verlig om te sien dat sy nie omgekrap daaroor is nie. Sophie mompel iets wat dalk “totsiens” in Malgassies kan beteken en haas haar in die rigting van Mauritzio wat aandrentel in die hoofstraat se rigting. In die namiddagson kan Jan die refleksie van ’n lagie vars sweet op
Mauritzio se rug sien blink. Daar is geen teken van Brigitta nie.
“En toe,” vra Jan nadat hulle ’n paar treë in stilte gestap het, “hoe was die massage?”
Sy skrik asof sy uit ’n beswyming gewek is. “Uh, uh … oukei … en joune?”
Jan probeer om so normaal moontlik te klink. “Ja wat, sy kort bietjie ondervinding, maar … dit was ook oukei.” Dan oorval ’n vlaag van selfverwyt hom en hy kry die intense behoefte om te vergoed vir sy onbesonne optrede.
“Dis nou eers vyfuur. Ek sê jou wat – kom ons gaan gou mark toe, dan kry ons jou deken. En Marie, as jy nie genoeg geld het nie, moenie worry nie, ons kan die kaart gebruik.” Hy skrik vir die skuldtoon in sy stem en hoop dat sy vrou niks agterkom nie.
Maar Marie is op ’n ander stasie. Sy stop in haar spore, draai in die rigting waar Sophie en Mauritzio staan en gesels, en met ’n vonkel in die oë antwoord sy: “Deken? Vergeet van die flippen deken, dis iets wat mens op enige plek op hierdie aarde kan koop.”
The post Madagaskar-tafeldeken appeared first on LitNet.