Quantcast
Channel: Onderlangs – LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 72

Tien vrae en 'n uittreksel: Boer kry 'n vrou deur Jan van Staden

$
0
0

Boer kry 'n vrou
Jan van Staden
Tafelberg Uitgewers
ISBN: 9780624073697

Waarskuwing: Net soos die hygliteratuur wat in LitNet se LêNet-afdeling verskyn, is hierdie onderhoud – asook die inhoud van die boek waaroor die onderhoud handel – nie vir jong lesers geskik nie. Die uitgewer meld ook duidelik: "Nog nooit was Afrikaanse fiksie só warm nie. Nog nooit is daar so lekker op papier gevry nie."

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

Skrywers oor hul nuwe boeke: Jan van Staden oor Boer kry 'n vrou.

Hallo Jan, wil jy vir LitNet se lesers vertel wie jy is en of jy al ooit vantevore vir LitNet geskryf het?

Ek is in die Pelgrimsrus-distrik gebore en het aan die Vaaldriehoek Universiteit van Tegnologie en aan Unisa studeer. Ek werk die afgelope dekade by Sasol. Ek is ’n aktiewe lid van die gimnasium en het vir jare ’n streng liggaamsbouprogram gevolg. Ek is lief vir jag en die natuur en het nog altyd daarvan gedroom om eendag te skryf.

Waarom het jy Boer kry 'n vrou geskryf? Die kykNET-reeks Boer soek 'n vrou (al die seisoene daarvan) was tot dusver baie gewild. Is jou idee vir jou boek hoegenaamd daarop gebaseer?

Ek het daardie reeks wel as agtergrond vir die boek gebruik. Ek het al verskeie verhale op LêNet geplaas onder die skuilnaam Cheetah (ek is ’n groot Cheetahs-rugbyondersteuner) en dít is waar Riana Barnard, uitgewer by Tafelberg, my raakgesien het en my toe aangemoedig het om ’n boek te skryf. In Boer kry ’n vrou wou ek graag op die man af uitbeeld wat moontlik agter die skerms in ’n werklikheidsreeks soos Boer soek ’n vrou kan gebeur.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik, en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Ek het verrassend vloeiend aan die boek geskryf. My grootste uitdaging was om die liefdestonele op die man af te skryf.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wát?)

Beslis die ruimte en die atmosfeer. Ek wou graag die gebeure realisties uitbeeld – dit moet so na as moontlik aan mense se werklike denke en dade wees. Dis fiksie, maar ek het baie daarvan op werklike stories gebaseer waarna ek om kampvure en in kroeë geluister het.

Wat dink jy van die hygliteratuur-genre? Is dit moontlik om seks en die letterkunde op 'n smaakvolle wyse te versoen?

Ek dink lesers word beslis geprikkel deur die taboes wat onder die lakens gebeur, ongeag die oorweldigende negatiewe kommentaar. Die internasionale topverkoper Fifty Shades of Grey het dit bewys.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie - behalwe dalk skrywers van hygromans ... of hoe? Waarom skryf jy?

Geld is glad nie my motivering nie. Ek het nog altyd daarvan gedroom om eendag te skryf – veral liefdesverhale, want ek verslind Mills & Boon. Dís waarom ek vir LêNet begin skryf het.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek het nog twee manuskripte in die laai en ek hoop hulle sal die lig sien.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Ek lees elke boek waarop ek my hand kan lê, maar ek verkies skrywers soos Wilbur Smith, Jeffrey Archer en enigiets wat na hygliteratuur neig.

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Afrikaanse skrywers is te konserwatief wanneer hulle liefdeslewens skryf, waarskynlik omdat die Afrikaanse gemeenskap nog konserwatief is hieroor. Ek wag in spanning om te sien wat lesers van Boer kry ’n vrou dink.

Laai 'n uittreksel uit die boek as voorsmaak af.

The post Tien vrae en 'n uittreksel: Boer kry 'n vrou deur Jan van Staden appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 72


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>